Bekende en berugte Swanepoels
Prof Hendrik Swanepoel - regsgeleerde
Die onderstaande teksgedeeltes is direk aangehaal uit die boek Gedenkbundel H.L. Swanepoel, onder redaksie van J.A. Coetzee. Durban: Butterworths, 1976, p.vii - ix.
"Hendrik Lambertus Swanepoel is op 9 November 1912 te Reitz in die OVS gebore."
"Na voltooiing van sy skoolopleiding skryf hy in as student in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die grade BA en LLB in 1933 en 1935 onderskeidelik behaal. In 1943 verwerf hy die aan dieselfde Universiteit die LLD-graad met die proefskrif getiteld: Die leer van Versari In Re Illicita in die Strafreg."
"Nadat hy as advokaat en later as prokureur gepraktiseer het en ook op die redaksie van 'n aantal koerante en tydskrifte gedien het, is hy in 1951 aangestel as senior lektor in die destydse Departement Regte aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. In 1952 word hy hoof van dié departement en die jaar daarop is hy bevorder tot Professor in die Regsgeleerdheid. Gedurende die tydperk 1959 tot 1961 was hy Dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. In 1965 word hy verkies tot Dekaan van die Fakulteit Regte wat in daardie jaar onder sy leiding tot stand gekom het. Dié amp het hy beklee tot kort voor sy dood op 26 Januarie 1972."
"Professor Swanepoel was mede-outeur van die bekende standaardwerk Die Suid-Afrikaanse Strafreg waarvoor die Suid-Afrikaanse Akademie die Stalsprys in 1963 aan hom en professor J.C. de Wet toegeken het. Benewens vakwetenskaplike artikels in verskillende tydskrifte het uit sy pen ook verskyn Oor Stigting, Trust, Fideicommissum, Modus en Beding ten behoewe van 'n derde en twee digbundels."
"Die talle liggame en besture waarop hy gedien het getuig nie alleen van sy veelsydigheid nie maar ook veral van sy onvermoeide en onbaatsugtige diens aan die gemeenskap op verskeie fronte. Hy was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het gedien in dié liggam se keurkomitee vir die Toon Van den Heever-prys vir Regswetenskap. Hy was ook lid van die Potchefstroomse Stadsraad, onder meer burgemeester en het gedien in die Transvaalse Munisipale Werkersvereniging, die Vereniging van Munisipale Bestuur en die Transvaalse Munisipale Vereniging waarvan hy 'n tydlank ook die President was."
"In die Burgermag het hy 'n leidende rol gespeel as bevelvoerder van die Regiment Potchefstroomse Universiteit, met die rang van Kommandant."
"Op die sportgebied het hy hom onderskei as ywerige en bekwame administrateur. Hy was onder meer regsadviseur van die Wes-Transvaalse Rugbyunie, voorsitter van dieselfde unie se skeidsregstersvereniging en lid van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad se toere- en tugkomitees."
"Sy kerk het hy gedien as ouderling en as lid van die regskomitee van die NG Kerk van Suid-Transvaal."